KULTUUR

Kunstefees 2025

Dit is net by ’n kunstefees waar jy hoor van frikkadelle wat tot in die tuin rol en daar
groei, van juffrouens wat in klastyd op perde wed en van lelike groen monsters wat
jou pa bekruip. Ek dink ek praat namens elke ma, pa en deelnemer wanneer ek sê
dat hierdie jaar se kunstefees ’n enorme sukses en ’n hoogtepunt op Laerskool
Kollegepark se kalender was.
Ons het byna 400 inskrywings gehad en daardeur meer as 200 A++’e ingepalm. Ek
sal oor en oor sê dat Laerskool Kollegepark se kinders nie teleurstel nie. Ek staan
verbaas oor ons kinders se gawes en talente en is so dankbaar vir ’n platform waar
hulle daarmee kan woeker. Mag ons op hierdie prestasie en mooi herinneringe
voortbou in elke kunstefees hierna.
Ons hoop Meneer Coenie het gehoor toe Oom Christo verduidelik hoe belangrik
pouses is. Ons hoef gelukkig nie vir hom te sê dat die slim oom eintlik van die
pouses tussen versreëls praat nie.
Julle maak Kollegepark trots!
JUF. AMORé VD MERWE

Ons skoolkoor het ook aan die kunsfees deelgeneem en A en A+ verdien. Die hoogtepunt van die koorkalender was die Foyer Produksie, waar ons saam met Leah en ‘n paar ander skole opgetree het.

REDENAARS 2025

By Laerskool Kollegepark is dit vir ons belangrik om geleenthede te skep waar ons kinders
kan groei en belangrike lewensvaardighede kan opdoen. Redenaars bied ‘n platvorm waar
kinders hulle kommunikasievaardighede en selfvertroue kan bevorder.
Gedurende 2025 was daar weer vuurwarm redenaars en ons leerders het geredeneer dat die
rook trek. Hulle het met hulle inleidings, standpunte en slot opsommings die beoordelaars en
luisteraars oortuig van hulle standpunte.
Ons redenaars het die geleentheid gehad om deel te neem aan die Super 12-, ATKV-, Op die
Tong Af – en Radikale Redenaarskompetisies. Baie geluk aan die volgende leerders met
hulle uitsonderlike prestasies:
⮚ Lerieke Grobler (gr.5) dring deur na die finale rondte van die Super 12-
Redenaarskompetisie.
⮚ Udia Grobler (gr.3) en Linden le Roux (gr.5) dring deur na die ATKV Gauteng-Wes
semifinale rondte.
⮚ Waldo Labuschagne (gr.7), Milandri vd Berg (gr.5) en Charl du Preez (gr.4) dring deur na
die Radikale Redenaars Gauteng Streeksfinaal vir Lees: Prosa & Poësie.
Rob Brown het gesê: “As jy kan praat, kan jy beïnvloed. As jy kan beïnvloed, kan jy lewens
verander.” Ons is trots op elkeen van ons redenaars en weet dat hulle die vermoë het om in die toekoms lewens te verander.
JUF. ANNATJIE BOTHA

Bybelvasvra:  2025

 

Op 16 Augustus het ons skool se Bybelvasvra-span vroeg die oggend vertrek. Die koel oggend en rustige busrit het vir ’n kalm wegspring gesorg, en almal was vol afwagting. Voor die kompetisie het ons heerlik saam geëet en is selfs met geskenkies bederf – dit het die dag nog meer spesiaal gemaak.

 

Die kompetisie het vir ons gewys dat harde werk en goeie voorbereiding altyd vrugte afwerp. Die hele ervaring het ons nader aan mekaar gebring en gewys hoe waardevol spanwerk is.

 

’n Groot dankie aan ons onderwysers en ouers wat ons ondersteun en aangemoedig het. Dit was ’n dag vol geloof, vreugde en mooi herinneringe – iets wat ons lank sal onthou!

JUF. JANA MALAN

 Die Dansgroep presteer deur die jaar! 💃🕺✨

Die Dansgroep het hierdie jaar met trots en passie die verhoog laat skitter en bewys dat harde werk, toewyding en talent hand aan hand gaan. 🌟

Die jaar het afgeskop met hul deelname aan die Con Spirito Kunsvereniging, waar die dansers ’n uitstekende 84%behaal het – ’n fantastiese prestasie wat die toon vir die res van die jaar aangegee  het. 👏

Daarna het ons talentvolle sterre die gehoor beïndruk by Show Your Talent, waar hulle die Golden Buzzer ingepalm het! 🌟✨ Hulle het boonop met ’n Goud (80%–89%) weggestap én hul provinsiale kleure verwerf – ’n ongelooflike hoogtepunt vir die Dansgroep. 🏅🎉

Op 21 Augustus het die Dansgroep aan die Del Arte Eisteddfod deelgeneem en ’n uitsonderlike A++ (94%) ingepalm! 💃🕺

Die prestasies het nie daar gestop nie – by die Dance Waves Kompetisie het die Dansgroep ’n pragtige vierde plek verower in ’n sterk mededingende kategorie.

Laastens het die Dansgroep weer hul slag gewys by die Vaal Triangle of Performing Arts op 12 September, waar hulle met GOUD (80%–85%) beloon is. 🏆 Die verhoog was vol energie, passie en vreugde – presies wat Kollegepark se Dansgroep só besonders maak.

Michelle Eloff en Ashley de Paiva Smit.

 

*Kort Opsomming van ons Pom-Poms en Mini-Pom-Poms se Besige Jaar ����*

Ons Pom-Poms het hierdie jaar ongelooflik hard gewerk en hope pret gehad! Van
opwindende optredes tot spesiale toekennings – elke maand was vol energie, gees
en glimlagte. Ons het die jaar afgeskop met nuwe maatjies en ou bekendes wat hul
pom-poms teruggegryp het!
Albei ons Pom-Poms groepies het verskeie geleenthede opgehelder met hulle
sprankelende gees en entoesiasme. Vir baie was dit hul eerste keer om voor ‘n groot
skare mense op te tree– en hulle het met trots uitgeblink! Ons Gr 1 – 3 Pom-Poms is
as wenners van die jaarlikse 90.6 FM Cheer-Off kompetisie in die Junior-Junior
Kategorie aangewys.
Buiten Pom-Poms het elkeen gegroei wat selfvertroue, samewerking en dissipline
aaanbetref. Dankie aan elke ouer, afrigter en maatjie wat hierdie jaar so spesiaal
gemaak het! Ons sien uit na nog groter spronge en glimlagte volgende jaar!
JUF. CARLA SCHOLTZ

VCSV 2025
GR.4’S GESELS OOR VCSV…
VCSV is bitterbaie pret. Ons lees Bybel en bid en sing en geniet die tyd. Ons
bring maats saam en almal is welkom. Ons geniet die tyd saam met ons maatjies
en leer baie oor Jesus. As ons daar instap, voel ons rustig en veilig. Ons is baie
lief vir VCSV en ons is baie gelukkig as ons daar is. ELMI OBERHOLZER

Ek hou van die Jesus-liedjies wat ons sing. Ek hou ook van die verskillende
onderwysers wat met ons kom gesels. Ek hou van die lesse wat ons leer. Dis ook
baie lekker as ons Bybelstories lees. ROXY ECROIGNARD

Ek hou veral van die musiek wat altyd op die einde gespeel word. Ek hou daarvan
dat as jy sit,mag jy nie uitgaan voordat dit klaar is nie. Ek geniet dit as juffrou
of meneer vragies oor Jesus vra. LENé PRETORIUS

VCSV is een van die lekkerste ervarings van skool. Ons leer meer van die Bybel
en God. Dis so interessant en daar is soveel goed wat ons leer. ESTIAAN HAYES

Ek hou daarvan dat die juffrouens vir ons bid…Ons moet mooi stilsit en stilbly.
Dit is vir ons lekker as ons sing. Daar is elke Woensdag 07:00 VCSV. Die
Juffrouens is baie gaaf. LIZMARI PRINSLOO

Een van my gunstelinge by VCSV is dat ons die HERE loof. Tweedens dans ons en
derdens sing ons en het baie pret. Vierdens lees Juffrou of Meneer uit die
Bybel en bid vir ons. Maar die een ding waarvan ek die meeste hou, is dat ons
oor Jesus en God my Vader praat. LIANA BLIGNAUT

 

Mnr. en Mej. Kollegepark
‘n Glansgeleentheid vol styl!

Die Mnr. en Mej. Kollegepark spogaande was hierdie jaar iets besonders. Die tema “Barbie
en Ken” het die saal omskep in ‘n wêreld vol kleur, glimlagte en styl.
Ons finaliste het met trots oor die loopplank gestap in ware Barbie-glam en Ken-charisma.
Van oorspronklike uitrustings vol flair tot glinsterrokke en netjiese pakke, het elke finalis hulle
eie persoonlikheid gewys. Die gehoor het met entoesiasme elke finalis aangemoedig en die
spoggeleentheid het gewys dat styl nie net oor klere gaan nie, maar ook oor selfvertroue,
trots en om net jouself te wees. Soos Barbie sê: “You can be anything!” en Ken herinner
ons: “Confidence is your best outfit – rock it and own it!” Daar was baie glans, lag en vrolike
oomblikke en elke finalis het soos ‘n ster geskitter. Die aande was ‘n ware viering van talent,
styl en selfvertroue.
Junior Motoedi en Miané de Clercq het die gehoor aan hulle lippe laat hang en gewys dat in
Barbie en Ken se fantasiewêreld kan hulle nie net hardloop en rugby speel nie, maar ook
goed praat. Linden le Roux en Emma de Clercq, Mnr. en Mej. Kollegepark Junior 2023, het
hulself goed van hul taak gekwyt en hulle rol as Barbie en Ken goed vertolk en almal deel
laat voel in Barbie en Ken se fantasiewêreld.
Baie dankie aan Larochelle du Plessis, Venezia Gradwell, Ané Oosthuizen, Siobhan Brazier
en Etienne Joseph wat die moeilike taak gehad het om die finaliste te beoordeel. Dankie
aan elke finalis wat deelgeneem het en elke ouer/voog wat dit vir die finaliste moontlik
gemaak het om die aande te skitter.
‘n Groot geluk aan die wenners:

Mnr. Bytjie
Mnr. Bytjie Persoonlikheid Dustin Crowie
Mnr. Bytjie Fotogenies Hermando Segotta
Mnr. Bytjie Tweede Prins CJ van der Merwe
Mnr. Bytjie Eerste Prins Zanru Samons
Mnr. Bytjie 2025 Callum Maartens

Mej. Bytjie

Mej. Bytjie Persoonlikheid Sarah-Lee Day
Mej. Bytjie Fotogenies Lizé Spammers
Mej. Bytjie Tweede Prinses Ellavie Ebershön
Mej. Bytjie Eerste Prinses Abigail Ayres
Mej. Bytjie 2025 Chantelaine Jacobs

Mnr. Junior

Mnr. Junior Persoonlikheid Owen Blake-Swartz
Mnr. Junior Fotogenies Juvandré Stander
Mnr. Junior Tweede Prins Jan-Hendrik Kloppers
Mnr. Junior Eerste Prins Charl du Preez
Mnr. Junior 2025 Duglan Venter

Mej. Junior
Mej. Junior Persoonlikheid Ivanke Nell
Mej. Junior Fotogenies Elané van der Merwe
Mej. Junior Tweede Prinses Catherine Pearson
Mej. Junior Eerste Prinses Elmie Oberholzer
Mej. Junior 2025 Udia Grobler

Mnr. Senior

Mnr. Senior Persoonlikheid Liam du Plessis
Mnr. Senior Fotogenies Christopher de Bruyn
Mnr. Senior Tweede Prins Keanu Beneke
Mnr. Senior Eerste Prins Franna van der Westhuizen
Mnr. Senior 2025 Wiaan Marx

Mej. Senior

Mej. Senior Persoonlikheid Linzuné Senekal
Mej. Senior Fotogenies Lisa Photolwama
Mej. Senior Tweede Prinses Tatum-Lee Knipe
Mej. Senior Eerste Prinses Juané Thomas
Mej. Senior 2025 Lerieke Grobler
JUF. CARLA ACKERMAN