Sport
“Sport bou nie jou karakter nie; dit openbaar jou karakter”.
Atletiek 2024
The sky has no limits. Neither should you. – Usain Bolt
Die atletiekseisoen het met ‘n spoed afgeskop en ons atlete het weereens bewys dat aanhouers wen, deur nie net hul eie tye en afstande te verbeter nie, maar ook vele prestasies vir die skool te verwerf.
Verskeie atlete het die skool verteenwoordig by Super 12 te Pilditch Stadion in Pretoria op 21 Oktober 2023. Atlete het met groot ywer en deursettingsvermoë deelgeneem. Tinashe Sithole behaal ‘n 3de plek in 60m, 1ste plek in 80m en word aangewys as Junior Victrix Ludorum. Emma de Clercq behaal ‘n 2de plek in 1200m, Joané Botha behaal ‘n 3de plek in Gewigstoot, Miané de Clercq behaal ‘n 2de plek in 1200m en Dario Saayman behaal ‘n 3de plek in Hoogspring. Super 12 was uiteindelik goeie voorbereiding vir die seisoen wat nog voorlê.
Met die jaarlikse Huissport was Kollegepark se veld prentjiemooi, vol atlete geklee in wit, geel, groen en rooi om die bokspanne te verteenwoordig. Dit is ook hier waar die atletiekspan saamgestel is, wat sou voortgaan om die skool by vyf vriendskaplike byeenkomste te verteenwoordig.
Die Aflosaand het ook gesorg vir hoendervleis oomblikke en ons spanne het gewoeker om die stokkie korrek oor te gee. Verder het ons atlete die geleentheid gehad om op 12 Februarie aan die Interlaer by Carel de Wet deel te neem, waar hulle die vrugte van hul harde werk gepluk het. Agttien atlete dring deur na die Area byeenkoms wat 20 Februarie te Hoërskool Driehoek plaasgevind het. Hulle neem deel aan verskeie baanitems. Ses atlete verower medaljes en dring deur na die Distrikbyeenkoms. 36 Atlete het hier deurgedring na die Distrikbyeenkoms wat 27 Februarie plaasgevind het te DP de Villiers Stadion.
Uiteindelik het sewentien atlete gekwalifiseer om die Sedibeng-Wes Distrik by Gauteng te verteenwoordig. Albei dae het gesorg vir goeie atletiek en sterk kompetisie. Emma en Miané de Clercq kwalifiseer hier vir 1200m en neem deel aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe. Emma behaal ‘n 3de plek en Miané ‘n 6de plek.
Laerskool Kollepark se atlete het beslis die wenstreep dopgehou en terselfdertyd ons skool se naam hoog gehou. Ons is baie trots op elkeen van julle!
Nog ’n seisoen in die byekorf
Merke, gereed, rugby…
Jaar na jaar skop die rugbyseisoen gedurende Maart af en wanneer ons die stof uit ons oë vee, is dit Juniemaand en dan is die seisoen verby.
Wanneer mens die kans kry om te reflekteer oor die seisoen, dan is dit moeilik om te dink dat ons in ‘n kort tydjie vyf opwarmingswedstryde, toere, Super 12 en die liga ingepas het. Dit is altyd lekker om te sien dat daar in so kort tyd so baie bereik kan word. Nie noodwendig in die hoeveelheid medaljes en trofeë wat ingesamel is nie, maar in die die geluk en ontwikkeling van elke seun wat sy hart week na week op die rugbyveld gelos het. k. Aan die einde van die dag is dit tog die bevrediging wat mens najaag terwyl daar nog lekker kaalvoet rugby in die laerskool gespeel word.
Graag wil ek geluk sê aan die volgende seuns:
Lesego Maloisane, Bernard Bezuidenhout, Reghart McGeer en Junior Motoedi.
Hulle is in die onderskeie o.12- en o.13- Valke rugbyspanne opgeneem. Dankie dat julle Kollegepark se naam hoog gehou het tydens die rugbytoernooie waarin julle gespeel het.
Ons o.10-rugbyspan het ook ’n besonderse prestasie behaal deur ’n goue medalje te wen in die Super 12-reeks. Baie geluk aan die afrigters en seuns.
Baie dankie ook aan elke borg vir die hemde, broeke en truie waarmee julle ons seuns in die seisoen bederf het. Dit word opreg waardeer.
Ons sien uit na 2025 se seisoen, aangesien ons bye alreeds besig is om die heuningpot om te roer! .
Netbalseisoen 2024
Die seisoen het sommer vroeg-vroeg afgeskop direk na ons besige atletiekseisoen.
Ons o.11- en o.13-spanne toer na Klein Kariba.
Hulle vind dit baie leersaam en geniet die aktiwiteite baie.
Die o. 10A’s het uitstekend gevaar in die Super 12-uitspeelwedstryde. Hulle het silwer in die Super 12 Laerskole B-afdeling behaal.
Flink voetwerk en puik balvaardighede is hierdie netbalseisoen deur elke netbalspan en-speler gehandhaaf! Hier volg die uitstekende resultate vir die Sedibeng Netballiga:
- 10A – Ligawenners
- 10B – Derde plek
- 11A – Vierde plek
- 11B – Tweede plek
- 12A – Tweede plek
- 12B – Vierde plek
- 13A – Ligawenners
- 13B – Vierde plek
Ons o.13A-span neem ook deel aan Hoërskool Driehoek se Fast Five en eindig tweede.
Ons is baie trots op Kyla Lamprecht wat gekies is vir die Gauteng o. 13-netbalspan.
Geluk Kyla, ons is voorwaar trots op jou, dis ‘n fantastiese prestasie!
Krieketkoer 2024
Hierdie jaar se krieket het sommer al vroeg -vroeg begin met ‘n opwindende Super 12- toernooi waaraan Kollegepark se 1ste krieketspan en O.11A- krieketspan deelgeneem het. Kollegepark is die enigste skool in die Vaaldriehoek wat die leerders die geleentheid bied om aan so besonderse reeks te kan deelneem , waarin die sterkste skole kan kragte meet. Die krieketmanne van beide spanne het regtig hulle allerbeste gegee tydens elke wedstryd op die veld.
Die liga het afgeskop. Ongelukkig kon geen van Kollegepark se spanne hierdie jaar `n trofee in die kas sit nie , maar daar was wel goeie lesse geleer, goeie sportmanskap was aan die orde van die dag en goeie verhoudings is gebou.
Hier volg `n paar hoogtepunte van verskeie spelers in die onderskeie Kollegeparkspanne tydens die krieketseisoen.
Eerste span :
Reinhard Verster
- 56 lopies teen Laerskool Orion.
- 50 lopies teen Laerskool Vastrap.
- 57* lopies teen Laerskool Van Riebeeckpark.
- 124* lopies teen Laerskool Fonteine
Johanru Fourie
- 46* teen Laerskool Fonteine
Logan le Roux
- 39 lopies teen Laerskool Midvaal.
- 39 lopies teen Laerskool Risiville.
Tweede span
Macky Mclaggan
- 56* lopies teen Laerskool Midvaal
- 53 lopies teen Laerskool Vryheidsmonument
- 11A- span
Johanru Fourie
- 56 lopies teen Laerskool Midvaal
- 64 lopies teen Laerskool Fonteine
- 11B- span
Hanrè Malherbe
- 50 lopies teen Laerskool Vryheidsmonument
- 50 lopies teen Laerskool Fonteine
Liam du Plessis
- 50 lopies teen Laerskool Vryheidsmonument
Owen Webb
- 50 lopies teen Laerskool Midvaal
Tristan Coetzee
- Driekuns met die boulwerk teen Laerskool Vryheidsmonument.
Ons sê baie geluk aan die volgende leerders wat in `n streek krieketspan opgeneem is en hulle spanne gaan verteenwoordig het vanaf 20 September – 23 September 2024.
Zaiden Barkley
Kyle Jacobs
Danelle Dreyer
Rossouw Toerien
Markus Van der Berg
Johanru Fourie
Marcel van Rooyen
Heinrich du Plessis
Reinhard Verster
Logan le Roux
Divan Dreyer
Eerste dogters hokkiespan
Ons het die seisoen begin met ‘n baie opwindende hokkietoer na Jubaweni. Ons hokkie vaardighede het daar pragtig ontwikkel en ons het ‘n eenheid op die veld gevorm. Tydens Super 12 het ons uitstekend gespeel en mekaar as ‘n span aangevul. Daarna het ons met die liga afgeskop en elke oomblik geniet. Elke speler het op haar eie manier ontwikkel en gegroei. Ek is regtig baie trots op elke meisie wat haar beste gelewer het. Julle is elkeen baie kosbaar.
Me. Belinda van Tonder
Eerste seuns hokkiespan
Dis vroegoggend… Daar is ‘n groot gewoel op Laerskool Kollegepark se terrein. Die pappas lyk soos pakdonkies en skarrel om alles uit die motors te kry. Die mammas kloek en is bekommerd oor die ver pad en of hulle genoeg peuselhappies vir die honger manne ingepak het. Wat die seuns aanbetref… hulle is net gepla of RW sy luidspreker gebring het sodat hulle die afrigters ‘n ding of twee oor musiek kon leer. Ek moet bieg… “The veggie dance” het my tot laat wonder of broccoli nie tog beter as biltong is nie.
Tydens die Jubaweni-toer het die span mekaar behoorlik geskuur en -skaaf. Met mag, krag en Kollege-trots het ons die Super 12 en die liga aangepak. Deur baie suksesse (asook ‘n paar vastrap spele) het die seuns alles in hul vermoë gedoen om Laerskool Kollegepark se naam hoog te hou. So kom ons aan die einde van ‘n seisoen en ons kan met trots sê dat ons baie geleer en oorwin het.
Knapgedaan manne!
Afrigters: Maryke Malan & Zanelle Burger
Tweede dogters hokkiespan:
Hierdie seisoen het ons hokkiespan dalk nie die meeste wedstryde gewen nie, maar ons het beslis gewen in gees met breë glimlagte! Vanaf die eerste hou wat geslaan is tot die laaste eindfluitjie wat weerklink het, was ons harte so breed soos die baan en ons glimlagte so breed soos die doelpale.
Oefening was ‘n fees! Ons het ons aangee-tegnieke verbeter, beter balbeheer gekry, en selfs vir ons ‘n bynaam gekry. En die grootste hoogtepunt? Die eerste keer wat ons op ‘n astro-baan gespeel het! Ons het dit verskriklik geniet – die gladde oppervlak, die vinnige spel, en natuurlik, die ekstra spoed op die veld.
Hierdie was beslis ‘n seisoen vol pret, lag en baie leer. Ons kan nie wag om volgende seisoen weer die baan aan te durf nie!
Afrigters: Chadonney Steenkamp & Jana Malan
o.11-Hokkie dogters:
Die jaar se o.11- dogters hokkiespan was van die begin af propvol gees vir die hokkieseisoen. Met elke wedstryd het hulle alles ingesit en met passie gespeel, hulle het letterlik tot aan die einde van die liga ‘n behoorlike “fight” gevoer. Ons is vreeslik trots op die dogters.
Afrigters: Carla Scholtz & Michelle Eloff
o.11-Hokkie seuns:
Afrigters: Venessa Lourens & Yolandi Holton
TENNIS 2024
Baie geluk aan ons o. 11-tennisspan wat tweede in die liga geëindig het.
Baie dankie aan elke o. 13-speler vir julle toewyding en deursettingsvermoë.
Julle mooi gesindheid en getroue bywoning van oefeninge en winde wat getrotseer is, het nie ongesiens verbygegaan nie.
Landloop 2024
“It does not matter how slowly you go as long as you do not stop! Confucius”
Laerskool Kollegepark se landloopatlete het beslis die seisoen begin en afgesluit met dapper harte en longe gevul met baie suurstof. Dit was ‘n kort, maar besige seisoen.
Die landloopatlete het aan drie ligabyeenkomste deelgeneem en ons was bevoorreg om ook ‘n span af te vaardig om aan die Distrikbyeenkoms te Emerald Casino deel te neem. Vier van die atlete dring deur na die Gautengbyeenkoms te Hoërskool Die Anker. Miané de Clercq en Franna van der Westhuizen spog met brons medaljes en die prestasie om derde in Gauteng te wees. Hulle verteenwoordig Gauteng by die Suid-Afrikaanse byeenkoms die laaste naweek in September. Miané de Clercq eindig 9de en haar span verower ‘n goue medalje. Franna van der Westhuizen eindig 15de en sy span verower ‘n brons medalje.
Die Super 12-landloopbyeenkoms het weereens by die imposante Voortrekkermonument plaasgevind. Ten spyte van die sterk kompetisie, het ons atlete dit baie geniet en ons spog met een goue medalje vanaf Miané de Clercq en twee brons medaljes vanaf Emma de Clercq en Franna van der Westhuizen.
Laerskool Kollegepark se landloopatlete het beslis met groot glimlagte en lang asems die seisoen suksesvol afgesluit.
Bloed en sweet, hier en daar ‘n noodkreet, vra ons manne, hulle sal daarvan weet.
Skop hom doer, druk hom daar, ons reken sommer vinnig met ons opponent af en klaar.
Hierdie manne het geen spiere van papiere. Hulle woeker met baie talente.
Haai daar, slaaiblaar, sal jy vir my bedaar. Kyk daar, wie weet waar, daar maak ons weer met ‘n wen klaar.
Mooi rokkies, skoolsokkies, ons dames hop soos springbokkies. 1, 2, 3 en siedaar, ons maak elke keer met ‘n groot telling klaar. Doele word gegooi en Oupas en Oumas van oral af word genooi.
Hop–hop spinnekop, kry vir jou ‘n bal, ‘n stok en mik reguit vir die hok.
Saterdae word waterdae met uitputtende, harde hokkiedae. Ons klein soldaatjies is altyd op hulle plek, reg om nog oë te rek.
Met ‘n dribbel-dribbel hier en ‘n doel doel daar, is deursettingsvermoë en harte van staal, sowaar daar
.
Welgedaan aan elke sportster wat in 2022 met provinsiale kleure vereer is. Julle hou ons skool se naam hoog!
Die skaak het sommer vroeg-vroeg aan die begin van die tweede kwartaal
begin met ligawedstryde in die Vaal Primary Schools Chess
League.
Spanne wat deelgeneem het aan die liga, was o.11 en o.13.
Die skaakbye het hulleself altyd uitstekend van hulle taak gekwyt en Laerskool Kollegepark se naam hoog gehou, nie net op die skaakborde nie, maar ook met hulle gedrag en goeie sportmangees. Daar was nooit ‘n gebrek aan entoesiasme nie en die skaakbye was altyd gretig om nuwe skaakskuiwe aan te leer. Ons is trots op julle!
JUKSKEI 2024
Die o. 13-seuns, verdedigende kampioene van 2023, het weer die beker huis toe gebring en as Noordvaal Skole Kampioene van 2024 uit die stryd getree.
Heinrich du Plessis ,wat aan sy vierde Noordvaal kampioenskap deelgeneem het, is as een van die uitblinkers aangewys.
Die o. 13-meisies het vyfde geëindig.
Ons harte brand van TROTS!
GHOLF:2024
Laerskool Kollegepark se gholfspelers het sekergemaak dat ons skool se naam hoog gehou word tydens die jaarlikse Super 12-gholfdag.
Baie geluk aan Leomand Jacobs wat met ‘n tweede plek weggestap het. Dis voorwaar ʼn prestasie om op trots te wees.