Sport

“Sport bou nie jou karakter nie; dit openbaar jou karakter”.

Atletiek 2025

Atletiekseisoen vol gees en glimlagte

Die atletiekseisoen het weer volspoed afgeskop en wat ‘n opwindende tyd was dit nie.
Vandat die eerste skoot geklap het tot die laaste oorwinningslag, het ons atlete gewys wat
moed, spanwerk en deursettingsvermoë beteken. Die pawiljoen was vol gees,
aanmoediging en elke atleet het hulle beste gegee – of dit nou in veld- of baanitems was.
Ons atlete het vasgehou aan wat Usain Bolt sê: “Moenie bang wees om groot te droom nie.
Drome wys jou wat moontlik is!”
Verskeie atlete het die skool verteenwoordig by Super 12 te Hoërskool Menlopark in Pretoria
op 19 Oktober 2024. Atlete het met groot ywer en deursettingsvermoë deelgeneem. Emma
de Clercq behaal ‘n 3de plek in 1200m, Franna van der Westhuizen behaal ‘n 2de plek in
1200m en Miané de Clercq behaal ‘n 3de plek in 1500m. Super 12 was uiteindelik goeie
voorbereiding vir die seisoen wat nog voorlê.
Met die jaarlikse Huissport was Kollegepark se veld prentjiemooi, vol atlete geklee in wit,
geel, groen en rooi om die bokspanne te verteenwoordig. Dit is ook hier waar die
atletiekspan saamgestel is, wat sou voortgaan om die skool by vyf vriendskaplike
byeenkomste te verteenwoordig.
Die Aflosaand het ook gesorg vir hoendervleis oomblikke en ons spanne het gewoeker om
die stokkie oor te gee. Verder het ons atlete die geleentheid gehad om op 11 Februarie aan
die Interlaer by Carel de Wet deel te neem, waar hulle die vrugte van hulle harde werk
gepluk het. 24 Atlete dring deur na die Area-byeenkoms wat op 25 Februarie te Hoërskool
Carel de Wet plaasgevind het. Hulle neem deel aan verskeie baanitems. 41 Atlete het
deurgedring na die Distrikbyeenkoms wat op 3 Maart plaasgevind het te DP de Villiers
Stadion.
Uiteindelik het twintig atlete gekwalifiseer om die Sedibeng-Wes Distrik by Gauteng te
verteenwoordig. Albei dae het gesorg vir goeie atletiek en sterk kompetisie (14 en 15
Maart). Joané Botha behaal ‘n 2de plek in Gewigstoot, Nicole Markos behaal ‘n 2de plek in
Hoogspring, Emma de Clercq behaal ‘n 1ste plek in die 1200m, Franna van der Westhuizen
behaal ‘n 2de plek in die 1200m en Miané de Clercq behaal ‘n 2de plek in die 1500m.
Joshua Lourens en Anushka Potgieter vorm deel van die aflosspanne en beide se spanne
behaal ‘n brons medalje.
Vyf atlete kwalifiseer om die provinsie by die Suid-Afrikaanse atletiekbyeenkoms te
verteenwoordig wat 21 en 22 Maart te Germiston Stadion plaasgevind het. Emma de Clercq
behaal ‘n 2de plek.
Laerskool Kollepark se atlete het beslis die wenstreep dopgehou en saam met dit, ook ons
skool se naam hoog gehou. Ons is ongelooflik trots op elke atleet wat deelgeneem het en
ons skool met trots verteenwoordig het. Ware wenners is dié wat nooit moed opgee nie.
Caster Semenya herinner ons: “Moet nooit ophou glo in jouself nie, selfs wanneer dinge
moeilik raak.”
JUF. CARLA ACKERMA EN MNR. HENCO WIESE

Die Rugby Byekorf
Wat ‘n jaar van harde duikslae, groot skrums en baie drieë. Van
opwarmingswedstryde tot die laaste ligawedstryde het al die Kollegeparkers hulle
staal gewys. Soos oudergewoonte het die o. 11- en 1ste spanne gaan toer by
Jubaweni. Beide spanne het baie nuwe tegnieke en spelpatrone geleer wat hulle dan
later die jaar op die veld toegepas het.
Die Super 12-wedstryde het ons al die pad na Tzaneen gevat waar ons teen
Tzaneen en Pietersburg Laerskool Suid gespeel het. Die rugby was kliphard maar
die o. 11’s het hulle staal gewys en altwee wedstryde op die dag gewen. Die o. 11’s
gaan dus deur na die finale om vir die top 4 uit te speel en eindig dan algeheel 3de.
Ons was behoorlik gereed vir die liga na al die oefenwedstryde en Super 12-
wedstryde. Ons bereik dan gemengde welslae met ons spanne. Die 1ste, 2de en o.
11-spanne dring deur na die Semi-finale van die liga. Ongelukkig het die 1ste en 2de
spanne verloor in die Semi-finale. Ons o. 11-Ironmanspan wys hulle staal en word
gekroon as die Ligawenners van 2025.
Ons spog ook graag met die volgende 4 seuns wat in onderskeie Valkespanne
gespeel het.
Johanru Fourie o. 12 Valke A-span
Reghardt McGeer o. 13 Valke C-span
Divan Schoeman o. 13 Valke C-span
Junior Motoedi o. 13 Valke B-span
MNR. WERNER KRIEL

Netbalnuus 2025: ’n Seisoen om op trots te wees!
Die 2025-netbalseisoen het gewys dat harde werk, spanpoging en
deursettingsvermoë altyd vrugte afwerp. Van die eerste fluitjie tot die laaste doel was
dit duidelik: ons meisies het nie net met hul vaardighede op die baan uitgeblink nie,
maar ook met hul skitterende sportmangees.
Hoogtepunte van die seisoen:
● Ons o. 11B-span het skitterend as ligawenners geëindig.
● Die o. 13B-span het ’n welverdiende 2de plek verower.
● Die o. 11A, o. 12A en o. 13A-spanne het almal trots 3de plek behaal.
● Die o. 11A-span het ‘n silwer medalje ingepalm by die Super 12-Laerskole B-
afdeling.
Verder is ons ongelooflik trots op die dogters wat vir die Sedibeng-span gekies is en
Gauteng-proewe gaan bywoon het:
Kayla Kleinhans, Tatyana Kabugo, Ruzaan van der Westhuizen, Nicole Markos,
Keke Radebe en Lea Viljoen.
Ons kan ook nie nalaat om ons o. 11- en o. 13 C-spanne te noem nie. Hierdie
spanne is die ware toonbeeld van ontwikkeling en potensiaal.

Hierdie jaar se netbal het gewys dat oorwinnings nie net op die telbord gemeet word
nie, maar ook in elke glimlag, elke ondersteuner en elke oomblik van trots. Baie
geluk aan al ons spanne en afrigters – julle maak ons skool elke seisoen trots!
ME. J. CAWOOD

KRIEKETKOER van die jaar.
Die jaar se krieketpaaltjies en sesse het sommer al vroeg begin! Die 1ste span en
die o. 11A-span het alreeds in Julie gaan deelneem aan die Super 12-toernooi wat in
Rustenburg plaasgevind het , waarby albei die spanne verskeie wedstryde gewen
het teen van die sterkste laerskole in die land.
Die 1ste krieketspan en die o. 11A- krieketspan het aan verskeie krieketreekse
deelgeneem. Die heel eerste krieketreeks waaraan albei die spanne deelgeneem
het, was die Vryheidsmonument “ 10 over a side”- reeks waarin die 1ste span ‘n 6de
plek en die o. 11A-span `n 3de plek behaal het. Direk daarna was dit die
Handhawerreeks. By hierdie reeks het albei spanne ook nie sleg gevaar nie.
Laerskool Kollegepark se eie Super 6’s-toernooi wat vir die 1ste spanne gehou is,
was hierdie jaar weereens ‘n reuse sukses gewees, waarin individue in die span baie
talent gewys het.
Die laaste, maar definitief nie die minste, die krieketliga. Hier het Laerskool
Kollegepark se spanne ook goed presteer. Ongelukkig het nie een van Kollegepark
se spanne die liga gewen nie , maar daar was baie goeie krieket gespeel en die
spelers het baie geleer.
Daar was ook streek krieketproewe gehou , waar Kollegepark se krieketsterre hoog
hand opgesteek het. Ons sê baie geluk aan die volgende leerders wat in ‘n
streekkrieketspan opgeneem is wat hulle spanne gaan verteenwoordig het vanaf 3
Oktober – 6 Oktober. Hierdie spelers is ook genooi om die Gauteng Lions-proewe op
15 en 16 Oktober te gaan bywoon:
Zaiden Barkley
Kyle Jacobs
Markus vd Berg
Rossouw Toerien
Johanru Fourie
Russel Langa
Ons wil ook baie geluk sê aan Danelle Dreyer, die linkerarm snelbouler van die
o. 11A- krieketspan, wat ‘n besonderse prestasie bereik het. Danelle Dreyer is vir
twee agtereenvolgende jare gekies om die Gauteng Lions dogters krieketspan te
verteenwoordig op 29 en 30 November. Ons weet sy sal vir die tweede jaar in ‘n ry
daar uitblink en Laerskool Kollegepark se naam hooghou.
MNR. HENCO WIESE

Eerste dogters hokkiespan
Wat ‘n wonderlike seisoen vol hokkie, trane en harde oefening.
Ons het die seisoen afgeskop met ‘n baie lekker toer na Jubaweni. Ons het die
Super 12 ook vreeslik geniet en beslis dit wat ons op die toer geleer het op die veld
toegepas.Ons het die liga goed benut en so as ‘n span gegroei. Die meisies se
vordering deur die seisoen was sigbaar en hulle was altyd bereid om te leer.Ons het
die seisoen goed afgesluit met die passie van hokkie. Mag hulle passie en liefde vir
hokkie altyd daar wees.
Afrigter: Belinda van Tonder & Susca Dreyer
Eerste seuns hokkiespan
Die 1ste seuns hokkiespan het vanjaar ’n vol en opwindende seisoen beleef. Hulle
toer was ’n wonderlike geleentheid om baie te leer en as span te groei.
By die Super 12-toernooi het die span sterk voorbereiding gekry wat hulle uitstekend
toegerus het vir die liga. In die liga self het die seuns elke wedstryd met groot
deursettingsvermoë en spanwerk aangepak. Hulle harde werk is beloon toe hulle ’n
puik 2de plek behaal het.
Afrigters: Werner Kriel, Yolandi Holton & Venessa Lourens

Tweede dogters hokkiespan:
Ons 2de dogters hokkiespan het gespog in hulle nuwe uitrustings hierdie seisoen.
Afrigters: Carla Scholtz & Michelle Eloff

Tweede seuns hokkiespan:
Die span het hul seisoen met groot gees en entoesiasme aangepak.
Chadonney Steenkamp, Venessa Lourens & Anneke Seiros

o.11A en B dogters hokkiespanne:
Hierdie jaar was ‘n opwindende mylpaal vir ons o.11- dogters. Ons het vir die eerste
keer twee spanne gehad. Dit was wonderlik om soveel entoesiasme en talent op die
veld te sien. Dit maak ons ongelooflik trots op al die dogters wat deelgeneem het.
Dankie aan al die ouers en ondersteuners wat hierdie seisoen moontlik gemaak het.
Afrigters: Maryke Malan, Zanelle Burger & Juanita Rossouw

o. 11 seuns hokkiespan:
Laerskool Kollegepark se O.11-hokkieseuns wys hul staal!
Die o. 11-hokkieseuns van Laerskool Kollegepark het hierdie seisoen ’n
merkwaardige pad gestap. Waar dinge aanvanklik effens onseker begin het, het die
span elke week gegroei en verbeter.
Afrigters: Larozelle Fourie

TENNIS 2025

Ons het voorwaar mooi tennis en goeie sportmanskap hierdie seisoen by ons tennisspelers gesien.  Die spelers het pragtig ontwikkel en ons kon duidelik sien dat hulle tennisvaardighede verbeter het.  Ons is opgewonde oor die toekoms.

Baie geluk aan ons o.11-tennisspan wat vierde in die liga geëindig het.  Baie dankie aan elke o. 13-speler vir julle deursettingsvermoë.

MEV. K. MINNAAR

Landloop 2025
Landloopseisoen vol moed en myle!

Die landloopseisoen het weer gewys wat ware uithouvermoë beteken! Reën, wind of son…
Ons atlete het elke wedloop met moed en glimlagte aangepak. Die bekende atleet Eliud
Kipchoge sê: “Selfdissipline is die brug tussen drome en prestasies.”
Die landloopatlete het aan drie ligabyeenkomste deelgeneem en ons was bevoorreg om ook
‘n span te stuur om aan die Distrikbyeenkoms deel te neem te Hoërskool Phoenix. Sewe
van die atlete dring deur na die Gautengbyeenkoms te Hoërskool Curro Midrand. Miané en
Emma de Clercq behaal albei ‘n vierde plek en Franna van der Westhuizen spog met ‘n
silwer medalje en die prestasie om tweede in Gauteng te wees. Hulle drie verteenwoordig
Gauteng by die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe die eerste naweek in Oktober.
Miané de Clercq eindig 1ste en haar span verower ‘n goue medalje. Franna van der
Westhuizen eindig tweede en sy span verower ‘n goue medalje. Emma de Clercq eindig
2de en haar span verower ‘n goue medalje.
Die Super 12-landloopbyeenkoms was in die prentjiemooi bos by Lavender Kontreimark in
Pretoria. Selfs al was dit sterk kompetisie, het ons atlete dit baie geniet.
Caster Semenya herinner ons: “Jy moet glo dat jy sterker is as wat jy dink.” Ons is trots op
elke atleet wat hulle alles gegee het. Julle wys dat ware wenners dié is wat aanhou
hardloop, al raak die pad lank.
JUF. CARLA ACKERMAN

Bloed en sweet, hier en daar ‘n noodkreet, vra ons manne, hulle sal daarvan weet.
Skop hom doer, druk hom daar, ons reken sommer vinnig met ons opponent af en klaar.
Hierdie manne het geen spiere van papiere. Hulle woeker met baie talente.

Haai daar, slaaiblaar, sal jy vir my bedaar. Kyk daar, wie weet waar, daar maak ons weer met ‘n wen klaar.
Mooi rokkies, skoolsokkies, ons dames hop soos springbokkies. 1, 2, 3 en siedaar, ons maak elke keer met ‘n groot telling klaar. Doele word gegooi en Oupas en Oumas van oral af word genooi.

Hop–hop spinnekop, kry vir jou ‘n bal, ‘n stok en mik reguit vir die hok.
Saterdae word waterdae met uitputtende, harde hokkiedae. Ons klein soldaatjies is altyd op hulle plek, reg om nog oë te rek.
Met ‘n dribbel-dribbel hier en ‘n doel doel daar, is deursettingsvermoë en harte van staal, sowaar daar
.

Welgedaan aan elke sportster wat in 2022 met provinsiale kleure vereer is. Julle hou ons skool se naam hoog!

Skaak 2025
Die skaak het sommer vroeg in die jaar afgeskop deur uitdunne te hou om ‘n
o. 11- en ‘n o. 13-span te kies om deel te neem aan die Vaal Triangle Chess
League.
Ons kinders het dit baie geniet en elke wedstryd met entoesiasme aangepak en
hulle beste gegee en hulle was inderdaad goeie ambassadeurs vir Laerskool
Kollegepark  gewees.
JUF. CHRISTA KORFF

 

JUKSKEI 2024

Die o. 13-seuns, verdedigende kampioene van 2023, het weer die beker huis toe gebring en as Noordvaal Skole Kampioene van 2024 uit die stryd getree.

Heinrich du Plessis ,wat aan sy vierde Noordvaal kampioenskap deelgeneem het, is as een van die uitblinkers aangewys.

Die o. 13-meisies het vyfde geëindig.

Ons harte brand van TROTS!

Gholf 2025
Wat ‘n ongelooflike jaar was 2025 gewees vir Laerskool Kollegepark se gholspelers.
Leomand Jacobs, een van Kollegepark se ster gholfspelers het die ongelooflike
geleentheid gehad om aan die U.S. KIDSGOLF WORLD CHAMPIONSHIPS in
Amerika te gaan deelneem. Dit was drie dae van 18 putjies se intense gholf.
Leomand eindig algeheel 75ste uit 150 deelnemers.  Laerskool Kollegepark is baie
trots op jou.
Laerskool Kollegepark neem ook weer deel aan die Super 12-gholftoernooi wat
aangebied was deur Laerskool Vastrap by die ongelooflike Gary Playerbaan in Sun
City. Al was dit ‘n warm dag en lang stap in die son het die glimlagte op ons seuns
se gesigte na 18 gaatjies dit net bevestig dat gholf geseëvier het. Die Kollegepark
span: Johanru Fourie, Leomand Jacobs, Zaiden Barkley en CJ v.d Merwe eindig
algeheel 9de uit 23 skole in die Zero Voorgee-kompetisie.
‘n Besondere geluk aan Leomand Jacobs wat op die Zero Voorgee individueel ‘n 82
gespeel het. Leomand en ‘n ander seun was gesamentlik eerste, maar Leomand
verloor toe die uitspeel en eindig algeheel 2de. Baie geluk aan elke seun wat
Laerskool Kollegepark se naam hooggehou het ons weet daar lê nog groot dinge vir
julle gholftoekoms voor.
MNR. WERNER KRIEL